’N LAASTE WOORD VAN HANNES VAN RENSBURG AAN DIE ANDER KIND
Vandag is ’n dag vol emosie. ’n Dag van dankbaarheid, trots, herinneringe en ook ’n stukkie hartseer. Vandag maak ek, Hannes van Rensburg, die laaste bladsy van Die Ander Kind toe. Nie omdat die storie verby is nie, maar omdat elke storie soms ’n oomblik verdien waar ’n mens terugstaan, diep asemhaal en besef hoe ver die pad jou gebring het.
Aan elke liewe mens wat my en my boek ondersteun het: DANKIE. Dankie vir elke boodskap, elke mooi woord, elke deel, elke gesprek en elke mens wat in hierdie verhaal iets raakgelees het wat diep in sy of haar hart kom lê het. Julle ondersteuning het vir my meer beteken as wat woorde ooit behoorlik sal kan beskryf.
Aan elke karakter in Die Ander Kind: julle verdien vandag ’n spesiale plek in my hart. Elkeen van julle het iets van julleself aan hierdie verhaal gegee. Julle pyn, julle vreugde, julle geheime, julle foute, julle liefde en julle menslikheid het die bladsye lewendig gemaak. Sonder julle sou hierdie boek nooit kon bestaan nie. Julle was nie bloot name op papier nie; julle was die hartklop van ’n storie wat geskryf móés word. Dankie dat julle deur my pen kon leef.
En dan is daar ook die ander kant van hierdie reis.
Dankie aan elkeen wat gal gebraak het op Facebook, wat my veroordeel het, wat my woorde verdraai het en my figuurlik tot in die hel verdoem het. Julle het my ook iets geleer. Julle het my gewys dat ’n mens nie almal tevrede kan stel nie, dat waarheid nie altyd gemaklik is nie en dat ’n mens soms sterk genoeg moet wees om op te staan, selfs wanneer ander jou probeer afbreek.
Maar hier staan ek steeds.
Met my kop omhoog, my hart vol dankbaarheid en my pen nog lank nie neergelê nie.
Die lirieke van die liedjie het ek self geskryf. As jy Die Ander Kind gelees het, sal jy verstaan waarom elke woord in die liedjie geskryf is. Jy sal die emosie agter die sinne hoor, die pyn tussen die reëls voel en dalk ook die dinge herken wat nooit maklik hardop gesê kon word nie. Vir dié wat die boek verstaan het, sal die lirieke veel meer as net woorde wees. Dit sal ’n stukkie van die verhaal wees wat aanhou leef.
En nou, liewe lesers, is dit nie ’n totsiens nie. Dit is bloot ’n tot siens.
Want as julle weer van Die Ander Kind hoor, is dit nie net tussen die bladsye van ’n boek nie …
DAN IS DIT OP DIE GROOT SKERM, IN DIE FLIEKTEATERS!
Hou julle oë oop, want die verhaal het nog ’n pad om te stap. En wanneer daardie oomblik aanbreek, hoop ek julle sal saam met my daar wees om hierdie besonderse reis verder te vier. Moet dit nie misloop nie!
En vir dié wat wonder wat volgende kom: die verhaal eindig nie hier nie. Die opvolgboek, Die Ander Man, word in 2027 verwag. Daar is nog stories om te vertel, nog geheime wat wag om oopgevou te word en nog bladsye wat geskryf moet word.
Aan my Almagtige God en Hemelse Vader: U was my krag toe ek swak was, my lig toe die pad donker was en my anker toe die storms om my gewoed het. Dankie dat U my deur elke seisoen van my lewe gedra het. Dankie vir die genade, die geleenthede, die lesse en die krag om aan te hou wanneer ek nie altyd geweet het hoe nie. Hierdie reis was nooit net myne nie; dit was ook deel van U groter plan vir my lewe. Aan U kom al die eer toe.
Aan my man, my lief, liewer, liefste Dean: dankie vir jou liefde, jou omgee, jou geduld en jou onwrikbare onderskraging. Dankie dat jy my hand vashou wanneer die wêreld hard raak, dat jy in my glo wanneer ek self twyfel en dat jy my herinner wie ek is wanneer alles om my lawaai. Agter elke moeilike dag was daar jou liefde, en daarvoor sal ek jou altyd dankbaar wees. Jy is my veilige plek, my mens en my hart se tuiste. Ek is lief vir jou, meer as wat woorde ooit kan sê.
Mamma en Pappa …
HIERDIE IS VIR JULLE.
Vir alles wat julle vir my beteken. Vir die liefde wat my gevorm het, die waardes wat julle my geleer het en die deel van julle wat vir altyd in my sal voortleef. Elke droom begin iewers, en vandag se oomblik dra ook iets van julle daarin. Ek hoop ek maak julle trots.
Aan elke leser, elke ondersteuner, elke kritikus, elke karakter en elke mens wat op die een of ander manier deel geword het van hierdie reis: dankie.
Vandag maak ek die boek toe, maar ek maak nie my hart toe nie. Ek neem elke les, elke herinnering en elke emosie saam met my. Die Ander Kind sal altyd ’n deel van my wees, want sommige stories skryf ’n mens nie net met ink nie — jy skryf hulle met jou hele hart.
Met ’n hart wat oorloop van dankbaarheid, met trane wat dalk vandag nader lê as gister, en met geloof in wat nog voorlê …
Al my liefde. Altyd.
HANNES VAN RENSBURG
Skrywer van Die Ander Kind